☀️ Maandag — Hierdie week: Psalm 23
Hierdie week stap ons stadig deur die bekendste gebed in die Bybel — Psalm 23 — een reël op 'n slag. Dawid was self 'n skaapwagter; hy't geweet waarvan hy praat.
Vandag net die eerste sin: "Die HERE is my Herder; niks sal my ontbreek nie." (Psalm 23:1)
Let op die woordjie my. Nie "'n herder vir die skare" nie — my Herder. En 'n herder loop vóór die skape, ken elkeen, tel hulle een vir een. "Niks sal my ontbreek nie" beteken nie ek kry alles wat ek wíl hê nie — dit beteken by Hóm is genoeg.
👉 Vanmiddag se vraag: Wat verander as jy "die Herder" lees as my Herder — Iemand wat jóu persoonlik ken, nie net die klomp nie?