☀️ Maandag — Hierdie week: Ontmoetings met Jesus
Hierdie week loop ons saam met nog vyf mense wat vir Jesus persoonlik ontmoet het — en elkeen se lewe was daarna anders. 📖
Ons begin by die blinde Bartiméüs langs die pad by Jérigo. Hy hoor Jesus kom verby en begin skreeu, en Jesus staan stil. "En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabbóni, dat ek mag sien." (Markus 10:46-52)
Let op die vraag. Jesus sien mos dat die man blind is — en tóg vra Hy: wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Hy dwing niks af nie. Hy vra, en Hy wag dat Bartiméüs dit self sê.
👉 Vanmiddag se vraag: As Jesus vandag vir jóú vra "wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?" — wat sou jy eerlik antwoord?